

Petronel
Baard
Crescendo-wenner: 1999, mentor en kunstenaar
MEER OOR PETRONEL
Petronel Baard vertel dat sy reeds van jongs af onder die inwoners van haar geboortedorp Villiersdorp in die Overberg, Wes-Kaap bekend was as die kind wat graag buite onder die bome geloop en sing het. In 1999 kry sy haar eerste groot deurbraak toe sy die eerste plek in die ATKV-Crescendokompetisie verower. Alhoewel Petronel klassiek opgelei is en klavier en kitaar kan speel, noem sy haarself ’n teaterentrepreneur en kunsontwikkelaar. Sy skryf, produseer en tree op in haar eie produksies.
Op die oomblik dien sy haar tweede termyn as ondervoorsitter van die Wes-Kaapse Kultuurkommissie uit. Tussen al hierdie bedrywighede tree sy sedert 2022 as talentsoeker en mentor vir ATKV-Crescendo op.
In 2020 ken die Cordis-trust, ’n organisasie wat hulle beywer om die Afrikaanse woordkuns te bevorder, die Orde van die Beiteltjie aan haar toe. In 2024 vereer dieselfde organisasie haar met die Orde van die Ster.
Petronel het ook al ’n Sama- en FNB-nominasie vir die beste kabaretkunstenaar agter haar naam.
Sy het onlangs haar eerste duet saam met medementor Sarah Theron, Blou flamink, op alle stromingsplatforms bekendgestel. Petronel beskryf die lied, opgedra in liefdevolle herinnering aan hul musiekvriend Helmut Meyer (1978-2024), as “’n kragtoer van emosie en heimwee – gemik om die ore en hart van die luisteraar te versterk in hulle menswees”.
Foto: Pierré Photography Passion